
Trekkerverkope van 353 eenhede in April is 16% meer as die 304 eenhede wat verlede April verkoop is. Vir die jaar tot dusver is trekkerverkope egter 17% laer, vergeleke met verlede jaar.
Mnr. Leon Pretorius, voorsitter van die SA Landboumasjinerie-assosiasie, sê stroperverkope van 37 eenhede in April is byna 28% laer as verkope in April 2009 en 32% laer vir die ooreenstemmende tydperk tot dusver.
“Hoewel trekkerverkope dié maand ’n bemoedigende opwaartse neiging toon, is verkope in die somergewasgebiede nog traag. Daar is twee hoofoorsake daarvoor. Eerstens bly somergewaspryse bedruk en tweedens is daar ’n mate van onsekerheid oor die oes wat op land staan.
Pretorius sê die laat reën het die oes in baie dele vertraag en boere kon nog nie die oes-opbrengs vasstel nie.
Trekkerverkope buite die somergewasgebiede is egter bemoedigend. Volgens ramings in die bedryf is trekkerverkope vir 2010 steeds in die omgewing van 5 000 eenhede, ongeveer 10% laer as verlede jaar.
6 Mei 2010