As jy al gewonder het of jy geld kan maak uit daardie vragmotor of twee wat vir lang tye ongebruik in die skuur staan, lees gerus watter slim planne hierdie logistieke kenners beraam.
"Leen vir my jou vragmotor wanneer jy dit nie self gebruik nie, en ek maak vir jou geld daarmee," sê mnr. Brendan Pearson, besturende direkteur van 4PL.COM (Plaaslaaivloot).
Hy sê dié onderneming bied logistieke oplossings vir die vervoer van droë losmaat- en sakke vrag in Afrika suid van die Sahara. Dit bied professionele en in baie gevalle unieke produkte en oplossings.
Pearson sê sy onderneming wil boere help om hul vragmotors optimaal te gebruik met inagneming van die boere se eie behoeftes. Dit bied 'n vervoermodel waardeur 'n boer wat 'n vragmotor besit, waarde kan ontsluit. Sodoende kan hy sy boerdery diversifiseer deur in die logistieke mark betrokke te raak met 'n doeltreffende bestuursprogram en 'n verskeidenheid van volhoubare vragvolumes.
Navorsing het aangedui dat boere regoor Suid-Afrika vragmotors besit van alle groottes en vir talle aanwendings, maar min van hierdie vragmotors word werklik ten volle benut.
Maar hoe werk die plaaslaaimodel?
Boere wat 'n vragmotor of vragmotors besit vir die vervoer van hul eie produkte en dit ook vir ander werk beskikbaar wil stel, kan by die onderneming as 'n vervoerkontrakteur registreer. Hulle word per streek of provinsie in 'n stelsel opgeneem wat ook voorsiening maak vir verskillende vragmotorkategorieë. In elke streek of provinsie word inligting ingesamel en kontrakte gesluit vir vrag wat vervoer moet word. Operasionele koördineerders maak seker dat die vragmotorvloot ekonomies en doeltreffend aangewend word.
Die onderneming bemoei hom nie net met die oplossing van logistieke en vervoerprobleme nie, maar bied ook administratiewe dienste, finansiële waarborge, finansiering van nuwe vragmotors, korttermynversekering vir vragmotors en vragte, asook oplossings vir brandstofprobleme.
"Die waarde-ontsluiting vir die boer is onbeperk. As 'n boer 'n vragmotor besit, kan dit 'n bykomende inkomstebron wees waarmee die boerdery gediversifiseer kan word," sê Pearson.
Landbouweekblad, 9 Maart 2007.