
Laat reën, die lae mielieprys en die Transnet-staking het trekkerverkope in Mei geknou en die verkope van 299 eenhede was 5% laer is in die ooreenstemmende maand in 2009.
Mnr. Leon Pretorius, voorsitter van die SA Landboumasjinerie-assosiasie, sê trekkerverkope vir die jaar is bykans 16% laer as die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Stroperverkope van 24 eenhede is byna 43% laer as verkope verlede Mei en 35% laer vir die jaar tot dusver.
“Mei was ’n baie moeilike maand vir die plaaslike landboumasjinerie-bedryf. Verskeie ongunstige faktore het ’n rol in die mark gespeel en dit was daardie faktore, eerder as faktore soos goeie pryse vir toerusting, die laer rentekoerse en meer toeganklike bankfinansiering, wat die mark beïnvloed het,” sê hy.
Eerstens het die vertraging van die oes van somergewasse weens die laat reën, probleme veroorsaak met gehalte.
Tweedens is mieliepryse, wat reageer op voorspellings van ’n mielie-oes van heelwat meer as 13 miljoen ton, steeds bedruk.
Derdens is die lewering van toerusting erg geraak deur die Transnet-stakings.
Volgens Pretorius sal die gevolge van dié drie faktore nie sommer oor die kort termyn verdwyn nie. Die volgende maande sal waarskynlik redelik moeilik wees vir die bedryf. Kenners meen dat sowat 5 000 eenhede vanjaar verkoop kan word, wat 10% minder is as in 2009.
7 Junie 2010