Met dit in gedagte wonder ek watter rol die Nasionale Landboubemarkingsraad gaan speel. Die raad het 'n nuwe voorsitter en 'n aantal nuwe lede gaan hulle die uitdagings aanvaar en 'n verskil maak?
Dit raak al hoe duideliker dat Suid-Afrika se landbou nuut sal moet dink oor die bemarking van sy produkte en internasionale mededinging. Suid-Afrika se boere het met 'n skok agtergekom dat mededinging op internasionale vlak die geld kan laat instroom, maar ook dat dit kan lei tot spoedige ondergang as die reëls van die nuwe spel nie geken of nagekom word nie.
Boere en mense wat betrokke is by bemarking sal hul huiswerk weer moet gaan doen. Om 'n produk te lewer en te meen dat iemand wag om dit op te raap, is nie meer goed genoeg nie. Dit raak al hoe moeiliker vir boere om as enkelinge mee te ding. Inderdaad is kollektiewe bemarking in die internasionale omgewing vandag 'n vereiste. Dit geld egter ook die situasie binnelands.
Ons moet die Bemarkingswet nie buite rekening laat nie. Dit het 'n groot rol te speel. Die wet gee genoeg magte aan bedrywe om wel kollektief op te tree ten opsigte van 'n groot aantal sake sonder om die foute van die verlede te herhaal.
Daarby het die tyd aangebreek dat die leiers na vore moet tree. Die stang moet eenvoudig vasgebyt en die regte dinge gedoen word om die landbou op die regte pad en in 'n hoër versnelling te kry.
Onder die sake wat herbedink moet word, is die bevordering van 'n bedryf met heffings, spesifieke handelsmerk- en gehaltebevordering. Die bemarkingswet maak spesifiek voorsiening vir sake in verband met uitvoerbevordering. Die nuwe lede van die Nasionale Landboubemarkingsraad moet die voortou nou neem en die pad vir die onderskeie bedrywe aandui.
Ek het al talle kere gesê dat die landbou nog groot veranderinge gaan beleef. Pryse gaan min styg, grondpryse gaan onder druk kom en boere gaan al hoe meer sukkel om onverwerkte produkte te verkoop teen winsgewende pryse. Boere sal moet dink aan waardetoevoeging en die bevordering van produkte deur middel van onderskeidende kenmerke.
Die wêreld is toenemend besig om geintegreer te raak. Daarby is dit opmerklik dat die uitvoer van fabrieksprodukte voortdurend groei. Ook die handel in verwerkte landbouprodukte groei en dienste word oor grense heen uitgeruil, lui 'n verslag deur die Wêreldhandelsorganisasie.
Die wêreld-landbouhandel is besig om te versnel. Dit groei vandag al bykans twee keer vinniger as landbouproduksie. Die lande wat die toon aangee ten opsigte van die handel in landbouprodukte is steeds Amerika en Europa, gevolg deur Australië en Nieu-Seeland. Suid-Amerika is die nuwe opkomende uitvoergroep.
Een van die belangrikste gevolgtrekkings in die verslag is die sterk groei wat daar in verwerkte landbouprodukte plaasvind, weg van basiese kommoditeite. Die handel in landbouprodukte bestaan nou sowat 48 % uit verwerkte produkte. Ek glo dié neiging sal voortduur.
Daar is ook gevind dat die groei in landbouhandel meestal in die kleiner, nismarktipe produkte is. Die handel in natuurlike vesels, velle en huide, om net 'n paar te noem, neem beduidend af.
In ander lande het die besef al ingeslaan dat produsente betrokke moet raak by verwerking eerder as om 'n basiese produk te probeer verkoop. Die benadering is dat dit makliker is om 'n produk te differensieer en te bemark as dit verwerk is. Dit beteken ook dat produsente meer te wete moet kom van die behoeftes van verbruikers sodat hulle hul verwerking daarby kan aanpas en aanbied waarvoor wel 'n vraag bestaan.
Die vraag na handelsmerkprodukte bly groei namate lande welvarender raak en die besteebare inkomste van individue styg. Dit geld spesifiek landbouprodukte.
Grafiek 2 wys dat slegs sowat 28 % van die Suid-Afrikaanse landbouprodukte wat uitgevoer word, verwerk is.
Dit steek maar sleg af teen lande waarmee ons meeding. Ons kan nie saampraat met Suid-Amerika, Australië en die meeste ander lande nie. Ek vermoed die Suid-Afrikaanse uitvoer is aan die daal omdat ons steeds op die grondslag van basiese landbouprodukte wil meeding. Volgens die Departement van Landbou is wyn en suiker die enigste verwerkte produkte waarvan baie uitgevoer word.
Daar sal altyd 'n plek vir onverwerkte produkte wees. Boere moet in gedagte hou dat die prys van sulke produkte die aanvaarbaarheid sal bepaal, want daar is geen ander onderskeidende kenmerke nie. Anders gestel, sulke produkte moet so goedkoop moontlik aangebied word, wat ook beteken dat die produksiekoste so laag moontlik gehou moet word, want pryse gaan waarskynlik nie gereeld styg om die winsgewendheid in stand te hou nie. Die feit is mielies is mielies, koring is koring, vleis is vleis, melk is melk, wol is wol en só kan 'n mens voortgaan.
Afgesien daarvan dat jy dan die goedkoopste produsent moet wees om te kan meeding, sal die produkte se pryse ook meer siklies wees en dus 'n groter risiko inhou vir ál die partye. Die implikasie vir Suid-Afrika se boere is baie duidelik: Indien ons voortgaan om net basiese kommoditeite te produseer en daarmee wil meeding, moet ons weet dat die verkoopbaarheid deur die prys bepaal gaan word ons moet dus goedkoper as ons mededingers wees.
Boere se ervaring van die graanmark en wolveilings die afgelope tyd bevestig hierdie feit.
Met dit as agtergrond verwag ek dat die prys van basiese landbouprodukte in die volgende paar jaar nie veel gaan styg nie. Nog minder kan ek sien hoe die Regering nuwe boere suksesvol kan vestig as die nuwe orde reeds feitlik bomenslike eise aan bestaande boere stel. Dit het al duidelik geword dat slegs dié met die skerpste sakesin sal oorleef.
Die gebruik en beskerming van geografiese name om spesifieke produkte van 'n spesifieke oorsprong en gehalte aan te dui, raak al hoe belangriker. Die Wêreldhandelsorganisasie erken dit as 'n aanvaarde manier om produkte te onderskei en 'n naam te gebruik as 'n bemarkingsinstrument. Dit het begin in die wyn- en drankbedryf en daar is tekens dat dit na meer produkte uitgebrei word.
Dit gee die verbruiker die geleentheid om sy/haar voorkeure uit te oefen en aan die produsent om sy produk te differensieer, te verwerk en om waarde toe te voeg. Die vestiging van pertinente en konsekwente eienskappe is noodsaaklik.
Boere moet onthou dat die verbruiker se behoeftes al hoe meer gesofistikeerd raak en dat die koopkrag in talle lande vergroot. Verbruikers het dus behoefte aan 'n groter verskeidenheid. Die voorraad in winkels bevestig dit.
Navorsing het aan die lig gebring dat die beskerming van 'n naam met spesifieke gehalte-eienskappe alleen nie voldoende is nie. Aansienlike beleggings is nodig en intensiewe beeldbou deur middel van reklame 'n vereiste as dit onder die aandag van verbruikers gebring wil word. Die verslag stel dit duidelik dat wye steun noodsaaklik is. Rugryers kan nie geduld word as hierdie tegniek toegepas word nie.
Om saam te vat: Ons sal moet herbesin oor die bemarking van ons landbouprodukte. Dit geld op makrovlak om te kan meeding in die plaaslike mark én die uitvoermark maar ook op plaasvlak. In dié verband behoort die Bemarkingsraad 'n leidende rol te speel en vir bedrywe duidelike tekens te gee dat die Bemarkingswet wel só gebruik kan word en dat hulle dit sal steun. Dit moet ook dan aanvaar word dat daar nie plek vir rugryers is nie. Die wêreld is besig om ons verby te gaan .
15 Julie 2005