
Die Overberg Veteraantrekkervereniging gaan vanjaar weer deelneem aan die Agri Megaweek.
Besoekers kan uitsien na die vereniging se uitstalling asook die daaglikse optogte en vertonings in die SAB-hoofarena vanaf 15 tot 17 September op Bredasdorp. Die vereniging, wat in 1995 gestig is, is geaffilieer by die Wes-Kaap Veteraantrekkervereniging en bestaan reeds uit 26 lede, wat almal dieselde passie en belangstelling in die ou werkesels deel.
Mnr. Johan Groenewald, van die vereniging, sê veteraantrekkers wat geslagte lank hou word weer tot hul oorspronklike gloriedae gerestoureer. “Onderdele word ingevoer of, wanneer dit nie verkrygbaar is nie, self gemaak. Ervaring en kennis is deur jare se belangstelling en liefde vir die saak gedoen.”
Mnr. Leonard Kennedy, ook ‘n lid, sê die klub is deur die jaar baie bedrywig. “Ons neem aktief aan skoue deel en neem dikwels dagreise in die Overberg-kontrei.” Die groep het onlangs sowat 200 km na Malgas en terug gereis. Daar was ook in Maart ‘n rit na Brandfontein en die vereniging was ook onlangs deel van Napier se Patatfees. “Daar is heelwat jonger klublede wat ernstig is oor die bewaring van veteraantrekkers, wat baie verblydend is,” sê Kennedy.
Vir meer inligting oor Agri Megaweek kontak die Bredasdorp-kantoor by 028 424 2890 of die Paarl-kantoor by 021 863 0397. Besoek ook die Wes-Kaap Veteraantrekkertrekkervereniging by www.wtech.co.za.
2 September 2010