
’n Veteraantrekker-ekspo word deur die Swartland-veteraneklub in samewerking met die Piket-klub vir 8 en 9 Augustus op Malmesbury gereël.
Dié ekspo is die Wes-Kaapse Veteraan-trekker-en-enjinklub se jaarlikse ekspo.
Allerhande veteraantrekkers, masjinerie, vragvoertuie en stilstaande enjins van ouer as 30 jaar word normaalweg uitgestal, maar elke jaar word op ‘n bepaalde tema gekonsentreer. Vanjaar se temas is die koringbedryf en John Deere en Lanz.
Die reëlings vorder mooi, en sommer baie entoesiasme bestaan vir die Lanz-projek, waarvan mnr. Deon Joubert van Riebeek-Wes die sameroeper is. In hierdie stadium verwag hy ‘n versameling van tussen 20 en 30 werkende Lanze, en boonop nog ‘n mooi verskeidenheid modelle ook. So ‘n groot groep Lanze bymekaar sal ‘n eerste wees vir die hele Suid-Afrika. Nóg ‘n eerste sal die gerestoureerde Lanz 45 wees.
Mnr. Kobus Groenewald van Stilbaai is een van die beste restoureerders van trekkers in Suid-Afrika met vier nasionale kampioenskappe op sy kerfstok. Die beste nuus vir veteraan-entoesiaste is dat hy ‘n Lanz spesiaal vir die ekspo restoureer. En dié mense weet dat as Kobus restoureer, restoureer hy ‘n wenner!
Aanvullend tot die trekker-temas, word ‘n uitstalling van foto’s en koerantberigte van die geskiedenis van die Andrag-familie-onderneming gemaak. Die Andrags was vir jare die verspreiders van Lanz en John Deere in die Wes-Kaap. Die firma P. Andrag en Seuns is sinoniem met die graanbedryf in die Wes-Kaap.
Hou dus die naweek van 8 en 9 Augustus in gedagte indien ‘n uitstappie vir Vrouedag beplan word, want om net ‘n optog van veteraanvoertuie deur Malmesbury se strate met ‘n stuk of 20 bulderende Lanze op die voorpunt te beleef, sal klaar ‘n onvergeetlike ervaring wees.
Navrae: www.wctec.co.za