Clocolan is sinoniem met 'n landbou-veteraneskou. 'n Gebruik wat presies twintig jaar gelede ontstaan het, bereik vanjaar 'n hoogtepunt wanneer die vierde nasionale skou van die Suid-Afrikaanse Federasie van Veteraan-trekker-en-Enjinklubs (SAVTEK) van 5 tot 7 Maart op dié Oos-Vrystaatse dorp gehou word.
Klik hier om enkele foto's te sien. Foto's deur HENNIE RICHTER.
En hoewel die naam van die organisasie op trekkers en enjins dui, is SAVTEK lank reeds 'n volwaardige bewaringsorganisie met klem op die bewaring van alle fasette van die landboumeganisasie van weleer. Die instel van 'n kompetisie vir gerestoureerde veteraan-lorries en -bakkies het ook die belangstelling in dié voertuie laat toeneem.
Benewens die uitstekend gerestoureerde stilstaande enjins, trekkers, en implemente op aanbod, sal daar ook 'n groot getal ongerestoureerde trekkers en enjins te sien wees, want 'n SAVTEK-skouprogram word vir die genot van die deelnemers sowel as die besoekers opgestel. Deelnemers kom van oral, ook uit ander provinsies, met hul masjinerie en kry ruim geleentheid om met hul trekkers te ploeg, sommer net rond te ry en aan trekkerspeletjies deel te neem.
Meer as een optog deur die dorp en in die arena is ook op die program. Die "enjinmanne" put ook oneindig baie genot daaruit om hul stilstaande enjins aan implemente te koppel en dan die werking daarvan te toets. Van 'n skou waar slegs statiese uitstallings besigtig kan word, is daar dus geen sprake nie!
'n Oos-Vrystaatse veteraneskou sonder die bydrae van die bekende versamelaar, Gert Beukes, is ook ondenkbaar. Belangstellendes wat nog net van 'n bakkiespomp, 'n perderat en 'n osbaler gehoor het, sal nie net die gereedskap te sien kry nie, maar sal dit ook gedemonstreer sien.
Groot klem word vanjaar op die stilstaande enjin Lister geplaas, aangesien 2009 Lister se eeufeesjaar is. Een van die aktiwiteite rondom dié gebeurtenis, is die beplande aanskakel gelyktydig van so veel as moontlik van hierdie masjien met ikoniese status, hopelik 'n paar honderd. Dit op sigself is 'n gebeurtens van internasionale belang.
'n Binnenshuise foto-uitstalling waar klubs die geskiedenis van die landbou-ontwikkeling van hul streek uitbeeld, word vanjaar vir die eerste keer gehou.
Vir nadere inligting kan die hooforganiseerder, Coenie de Beer, by 082 374 4690 geskakel word.
15 Februarie 2009