Ou brandstoftenks, wat soms
nutteloos rondlê en verroes, kan 'n nuwe baadjie kry en in 'n heel nuwe rol op die plaas ingespan word. Só 'n voorbeeld is 'n tenk wat in 'n mobiele voermenger
omskep is.
Mnr. Du Toit Heyns van die plaas Libertas in die distrik Senekal het as beginnerboer in September 2005 sy eie potjie met die hulp van net twee werkers begin krap. Hy het spoedig daarna in sy gemengde boerdery met mielies en sonneblomme as kontantgewasse en Merino's en kruisrasbeeste die behoefte aan 'n voermenger ondervind.
Die tekort aan werkers en die omslagtigheid van die handmengproses het hom genoop om 'n voermenger uit afvalyster te bou. Geld vir 'n nuwe was daar nie en hy het toe by die bestaande modelle met die oog gesteel om die dieseltenk vir dié doel aan te pas.
Die tenk is horisontaal op 'n raam van kanaalyster gemonteer. Daaronder is die wiele van 'n ou mieliestroper. Aan die binnekant is 12 ysterspane in 'n spiraalvormige patroon om 'n sentrale as gerangskik. Die spane is só geplaas dat die rubberstroke aan die punte die mengsel terselfdertyd van links en van regs na die middel van die menger roer. Wanneer die bestanddele gemeng is, vee die spane dit deur 'n opening in die middel van die tenk waar dit in 'n sak beland.
Heyns se boerepatent is in staat om sowat een ton voer per uur te meng en in sakke te gooi vir gebruik as voer vir die skape en die kalwers. Vroeër het dit drie keer so lank geduur. Die menger maak ook korte mette met die kluite wat in die melasse-basis voorkom. Die voer word deegliker gemeng as met die hand. Hy meng sonder veel moeite 'n halfton op 'n slag.
Heyns sê hy het in die bestek van 'n jaar sowat 20 ton voer gemeng. Indien hy 'n boer in die omgewing R150 per ton vir die mengery moes betaal, het hy reeds genoeg bespaar om die koste van die voertenk te regverdig. Dit het hom net sowat R2 000 uit die sak gejaag, as sy arbeid buite rekening gelaat word. Hy moes slegs 'n rat, ses wiellaers en die staal vir die spane koop; die res van die materiaal was op die plaas.
'n Identiese weergawe van sy menger van nuwe materiaal het een van sy buurmanne sowat R7 000 gekos, met inbegrip van arbeidskoste. Dit is steeds 'n fraksie van die koste van vergelykbare kommersiële modelle wat R20 000 tot R30 000 elk kos.
Heyns se menger word deur 'n luierende trekker aangedryf. Hy skat dat nie meer as 2 liter diesel per uur verbruik word nie.
Landbouweekblad, 16 Februarie 2007