
Die prysstygings op 'n jaargrondslag van trekkers, stropers en alle ander landbouwerktuie gaan waarskynlik voortduur weens die verdere verswakking van die rand, sê dr. Jim Rankin, hoofbestuurder van die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-assosiasie (Salma).
Rankin sê in die jongtse uitgawe van AGFACTS-nuusbrief dat die pryse van trekkers en alle ander landbouwerktuie van April 2013 tot April 2014 met 22,4% gestyg het. Die prysstyging op 'n jaargrondslag van Maart 2013 tot Maart 2014 is op 19,4% bereken.
Vir trekkers was die prysstyging op 'n jaargrondslag van Maart 2013 tot Maart 2014 20,6% en vanaf April 2013 tot April 2014 23,3% (+ 2,7%). Die prystyging op 'n jaargrondslag vir selfaangedrewe stropers was van Maart 2013 tot Maart 2014 15,2% en vanaf April 2013 tot April 2014 was dit 20,2% (+ 5,0%).
Vir hooi- en voermaaktoerusting was die prysstyging op 'n jaargrondslag vanaf Maart 2013 tot Maart 2014 23,0% en vanaf April 2013 tot April 2014 was dit 26,2% (+ 3,2%).
Vir die ander landbouwerktuie, wat planters, kunsmisstrooiers en spuittoerusting insluit, was die prysstyging op 'n jaargrondslag van Maart 2013 14,3% en vanaf April 2013 tot April 2014 was dit 14,8% (+0,5%).
In Desember 2012 het die prysvergelykings op 'n jaargrondslag 'n prysdaling van alle landbou-toerusting aangedui van eers 3,9% en toe selfs 'n nog laer 3,0%. “Die huidige waardevermindering van die rand begin nou 'n duidelike invloed op die pryse op 'n jaargrondslag uitoefen, sê Rankin.