Dié boer versamel die weggooidraad en die sparre van wingerdboere wat dit nie meer nodig het nie, en span kampe daarmee teen minder as die helfte van die koste op sy Karooplaas. Selfs die binddraad wat gebruik word, is "optelgoed".
Die twee plase in die Karoo wat mnr. Petrus Roux van Villiersdorp aan twee susterskinders verhuur, se kampe is oor die algemeen baie groot, en daar is besluit om hulle in die middel te verdeel om eerder meer, maar kleiner kampe op die plaas te hê. Dié verdeling maak ook weidingbeheer baie makliker.
Staaldraad en ystersparre is egter vandagduur artikels, en nadat Roux 'n paar somme gemaak het, het hy besluit om 'n goedkoper alternatief op die proef te stel.
Hy het gesien dat van die wingerdboere wat oplei-wingerde vervang, gewoonlik die gebruikte draad en houtpale wat vervang word, weggooi. Hy het van dié boere gevra of hy nie die weggooidraad en -pale kon kry nie, en almal was heel gewillig om dit aan hom te gee. Sodoende het Roux sommer baie pale en staaldraad in die hande gekry.
Die beste houtpale is uitgesoek en gebruik om sorteerkrale vir die skape op sy plase te maak. Op die een plaas is daar nou reeds by elke kamp se ingangshek só 'n sorteerkraal - wat beteken dat die skape nie meer so ver aangejaag hoef te word na 'n toe kraal nie.
Die res van die pale het hy in die lengte deur laat saag by 'n medeboer met 'n groot bandsaag. Dié boer het dit gedoen op reënerige dae wanneer sy werkers nie buite kon werk nie, vertel Roux.
Die meeste van die pale is sowat twee meter lank. Aangesien die sparre vir die binnedrade een meter lank moet wees, kon daar dus vier korter sparre uit een paal gesaag word (twee uit elke gesplete deel). Groewe vir die drade het Roux met 'n hoekslyper in die sparre gemaak.
Ál nadeel van die sparre is dat meer binddraad nodig is om die sparre aan die draad vas te maak, maar dit hoef ook nie werklik 'n probleem te wees nie, want gebruikte baaldraad is gewoonlik volop by die naaste melkery en boere gee dit ook graag weg, het hy gevind.
'n Voordeel van die houtsparre is dat die draadheining met dié sparre baie meer sigbaar is vir diere.
Die staaldraad van die wingerdboere is gewoonlik in rolle wat gemiddeld 100 meter lank is. Roux het 'n oprol-wiel gemaak waarmee sy tuinhulp, mnr. Apols Gertse, die draad in groter rolle oprol. 'n Skroef word gebruik om die draad in vas te knyp om behoorlike lasse daarin te maak en die verlengde stuk draad word dan opgerol.
Die Karoo is klipwêreld en ysterpale is nodig as staanders. Die staanders is ál wat gekoop moet word. Op diep grond in leegtes gebruik hy ook van die uitgesoekte houtpale. Al dié planne bring mee dat binneheinings met ses staaldrade en een meter hoog opgerig is teen heelwat minder as die helfte van die prys wat dit sou gekos het as alles nuut gekoop moes word, sê Roux.
4 November 2005