Om bloot ’n wet te maak en die polisie te kry om dit af te dwing, is nooit ’n oplossing as mense genoeg rede het om iets aan te hou doen nie. Solank dit die moeite werd is, sal mense vindingryke maniere vind om beperkings van die staat te omseil.
Daar was die Amerikaanse oorlog teen dwelms in die 1980’s. Pres. Ronald Reagan het net mooi alles in die stryd gewerp om die ongekende instroming van veral kokaïen uit die Suid-Amerikaanse oerwoude na Amerika te probeer stuit. Honderde miljoene dollars later en daar is nie juis ’n duik in die probleem gemaak nie.
Smokkelaars het net tred gehou met die verskerpte wetstoepassing. Vragmotors is mettertyd met vliegtuie vervang, vliegtuie later met motorbote, en bote met duikbote!