Só het Charles Darwin, die vader van evolusie, gemeen. Ek het baie oor dié stelling oor aanpasbaarheid gedink terwyl ek die afgelope twee weke deur die somersaaigebiede van die Vrystaat en Noordwes gereis het. Op Graan SA se kongres was daar die ongemak oor stygende kunsmispryse.
As een van die wêreld se grootste verskaffers van kunsmis het internasionale sanksies Rusland vir alle praktiese doeleindes uit die verskaffingsprentjie gehaal. Oekraïne (en Rusland) se reuse-koringoeste is nou ook in die weegskaal, asook hul ander graan- en oliesaadoeste.
Brandstofpryse styg, en daarmee saam kunsmispryse. Alles wat vervoer moet word, soos kos, sal dus duurder word. Die kwesbaarheid van Suid-Afrika se landbou is nog selde só blootgelê. Ons sal moet aanpas as ons minder beïnvloed wil word deur wat elders in die wêreld gebeur.