Waar begin die storie wat eindig met twee boere wat ’n onwettige vrugteverkoper op ’n brug in die Paarl doodgeskiet het? Drie lewens wat in ’n oogwink onherroeplik verander is. Nog ’n landelike tragedie.
Dit vind nou met meedoënlose reëlmaat oor die land heen plaas. Brendin Horner wat vermoedelik deur veediewe by Paul Roux vermoor is. By Glencoe in KwaZulu-Natal is Qiniso Dlamini noodlottig deur Glen Simpson gewond in ’n struweling oor onwettige weiding. Simpson is steeds agter tralies.
Dan is daar dié wat nie die nuus haal nie. Boere wat aangerand word deur onwettige jagters met honde wanneer hulle gekonfronteer word. Of die veediefstal wat al jare lank buite beheer op die Lesothogrens voortsleep.