’n Mens kan met swak paaie, vrot munisipaliteite en in ’n mate met landelike misdaad saamleef, maar as jy nie ’n lewensmaat kan vind wat bereid is om saam met jou op ’n afgeleë skaapplaas in die Suid-Drakensberg te gaan woon nie, gaan die yskoue winters net daardie bietjie ondraagliker raak.
In die ou dae was dit jong onderwyseresse of verpleegsters wat op klein dorpies kom werk het, wat jong boere darem ’n paar opsies gebied het. Deesdae is dit logisties gesproke heelwat moeiliker om by ’n jong dame te gaan vlerksleep as om net in jou bakkie te klim en dorp toe te ry.
Claude se opmerkings bevestig klaarblyklik onlangse bevindinge van dr. Kandas Cloete van die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP). In haar onlangse doktorale tesis aan die Universiteit Stellenbosch het sy tot die ongemaklike gevolgtrekking gekom dat een uit vyf boere binne die volgende tien jaar wil ophou boer.