Die geheim agter die wêreld se duurste koffie – bone wat jou hier in die omgewing van R22 000/kg uit die sak kan jaag. Die rede vir dié duur drankie? Die onlasting van die klein Asiatiese palmsivetkat!
Op die string Indonesiese eilande waar die koffie verbou word, is die sivetkat aanvanklik as ’n plaag beskou, juis vanweë sy voorliefde vir die sagste, beste koffiebessies. Tot iemand per toeval die verteerde bessies in die sivet se mis bymekaar gemaak en dit as koffiebone verwerk het.
Tot almal se verbasing was dit toe ’n heel skaflike brousel. Die sivetkatte se betrokkenheid verbeter die koffie op twee merkwaardige maniere. Hulle selekteer eerstens net die heel beste koffiebessies, en dan, wanneer die bessies deur hul spysverteringstelsel beweeg, is dit ’n kombinasie van sure, ensieme en fermentasie wat hul ding doen.