’n Mens wil nie die bobbejaan agter die bult gaan haal nie, maar gesprekke oor kunsmispryse en -beskikbaarheid op die afgelope Graan SA-kongres was onrusbarend.
Die internasionale kunsmisprentjie lyk droewig. Rusland, die wêreld se grootste kunsmisuitvoerder wat tans onder strawwe wêreldsanksies steier ná sy inval van Oekraïne, het onlangs ’n twee maande lange verbod op die uitvoer van ammoniumnitraat geplaas.
Ammoniumnitraat en ureum is die twee hoofbestand- dele van stikstofkunsmis, die misstof wat die meeste ter wêreld gebruik word. Brasilië is die grootste invoerder van ammoniumnitraat, en gaan binnekort sy safrinha-graan aanplant ná sy sojaboonoes.