Ná twee jaar van covid-19-opskortings was die landbou weer reg om homself in die oë te kyk. Van die boikotters se oproepe het nie veel gekom nie, en dit was lekker om te sien dat van die manne wat die hardste geskree het, toe tog maar ’n draai kom maak het.
Nampo bly maar die plek waar ’n mens die landbou se temperatuur kan meet, en vanjaar was dit kerngesond. Meganiese uitstallers het byna almal nuwe tegnologie ten toon gestel, en die verbeterings wat van die groter uitstallers aan hul uitstalruimte gemaak het in afwagting op Nampo 2022, het die optimisme net verder beaam.
Onderliggend aan dit alles was die werklikheid dat dit in baie opsigte eintlik heel skaflik met die landbou gaan. Volgens Senwes se vooruitskattings gaan daar vanjaar R97 miljard na die somerreëngebiede vloei.