Begin maar met die natuurlike omgewing. Europa bly betreklik sagte wêreld. Groen, getem en prentjiemooi.
Brittanje, Skotland en Ierland waardeur ons as gesin onlangs gereis het, is ’n landskap deurkruis met eeue oue klipmure, plantverstrengelde heinings, en skape en beeste wat rustig en vergenoegd op hoëgehalteweiding hul dae deurbring in die skadu van die laaste stukkies lowergroen woud wat eens op ’n tyd die eilande bedek het.
As ’n mens so na dié wêreld kyk, kan jy verstaan hoekom Brittanje op ’n kol as die wêreld se stoetplaas bekend gestaan het. Tot vandag toe is veral Britse beesrasse, soos die Angus, van die grootste en talrykste ter wêreld, terwyl alles van Jack Russell-hondjies tot Leghorn-hoenders nog ’n plek op talle Suid-Afrikaanse plase het.