Daar is ook nog boere wat landbouprodukte van wêreldgehalte uitvoer en broodnodige valuta en ekstra inkomste vir Suid-Afrika verdien. Vir ’n land om in sy eie kosbehoeftes te kan voorsien, is seldsamer as wat ’n mens dink.
Volgens beramings sal gemiddeld net 36% van lande teen 2100 genoeg kos vir hul bevolking kan verbou. Daar is juis tans ernstige vrae oor die beskikbaarheid en toenemend die bekostigbaarheid van kos, ’n werklikheid wat Suid-Afrika se landbouvermoëns net verder onderstreep.
Die feit dat 30% van die wêreld se koringoes in gedrang kan wees vanweë die oorlog in Oekraïne en sanksies teen Rusland, asook ’n moeilike plantseisoen op plekke in die Midde-Weste van Amerika, dra by om die wêreld se kosstelsel deurmekaar te krap.