Dit gebeur nie aldag nie. Die kans om regtig iets gunstigs oor Suid-Afrika se politici kwyt te raak.
Maar daar bel Eddie Prinsloo van Heuningkrans Merino’s uit Smithfield se wêreld my die ander dag om die goeie nuus te vertel dat ná ses jaar se gesukkel die wa uiteindelik deur die drif getrek is met die boerderyprojek wat hy saam met sy werkers wil vestig.
Die geld vir die koop van die plaas waar hulle saam gaan boer, is uiteindelik deur die tesourie goedgekeur, en die grond is op 24 Januarie vanjaar aan die werkers oorgedra. Dit is ietwat van ’n deurbraak, aangesien die staat steeds weier om grond aan swart boere te gee.