Eens bestempel as die lelike eendjie van die Boland, in kontras met die toerismevriendeliker Montagu, het dit handomkeer verander sedert die omvattende padwerk wat in 2015 begin is, eindelik afgehandel is.
Die verspande betonboogbrug, die eerste in sy soort in Suid-Afrika, is gebou om die vloedhanteringsvermoë oor die Kogmanskloofrivier te verbeter. Die strate is skoon, en geen leë kommersiële ruimtes met desperate Te huur-kennisgewings val in die verbygaan op nie.
Die voorgenome sluiting van die Langeberg & Ashton Foods-inmaakfabriek deur Tiger Brands gooi egter ’n skadu van onsekerheid oor dié dorp en die sowat 300 inmaakvrugteboere in die Klein-Karoo en Breërivier.