Ek’s verbaas hoe baie van die aksie ek nie so lekker verstaan nie — van die uitdrukkings, kulturele verwysings en sommer baie van die humor ook. Dit is absoluut fassinerend dat my seuns nie my verwarring deel nie, en dit beaam my lankstaande vermoede dat ek al geruime tyd ouballie-status bereik het, al voel ek nog 35.
Maar dit is ook verskriklik bemoedigend. Want tussen al die nuwe idees wat jeugdige energie ontsluit, is daar straks ook ’n paar puik oplossings. My oudste, wat tans met universiteit klaarmaak, wys my onlangs die ChatGPT-toepassing wat die web met kunsmatige intelligensie verken.
Vra dit ’n vraag, en dit gaan soek vir relevante inligting tot in die verste uithoeke van die web, rangskik dit, organiseer dit en lewer dan ’n bondige opsomming.