Die landbou verdien die helfte van sy inkomste uit uitvoer. Ons kan dus nie bekostig om nié internasionaal mededingend te wees nie. Dit raak ook gewoon moeiliker om veral aan ontwikkelde markte, soos die Europese Unie (EU), te voorsien.
Die EU se sogenoemde Green Deal gaan taai nuwe vereistes aan Suid-Afrika se uitvoerboere stel, met die Europeërs wat nou só gesteld is op omgewingsoorwegings dat hul eie boere rooi sien. Nederlandse boere het juis onlangs hul voet behoorlik neergesit toe die staat onder meer die vlakke van diere se mis op plase wou bepaal.
Dit help egter nie dat ons dinge vir onsself moeiliker maak nie. Van bek-en-klouseer wat ons woluitvoere getorpedo het (en nou die hele vleisbedryf bedreig), tot ons hawens, waar tydgevoelige vrugte lê en oud word. As Suid-Afrika met die grootkoppe wil saampraat, sal hy beter moet vaar.