Ek het onlangs deur die pragtige Suid-Afrika rondgery, onder meer twee keer in Noordwes. Dit is maklik om te sien waarom die Vryburg-omgewing die Texas van Suid-Afrika genoem word. Eenvoudig gestel, dit is beeshemel.
Verskoon die uitdrukking, maar as ’n kind van God glo ek die lekkerste plek om te wees is in die hemel, en daarom noem ek die lekkerste plek vir ’n bees die beeshemel. Dit lyk asof die Vryburg-omgewing al die boksies vir ’n bees afmerk.
Terwyl ek daar rondgery en boere besoek het, was ek verstom oor hoe mooi kalwers uitgroei en hoe vet hulle ma’s terselfdertyd is. In Engels praat hulle van ’n “brittle” omgewing. Rondom Vryburg, Setlagole, Stella en Piet Plessis lyk dit soos die spreekwoordelike Kanaän ná hierdie wonderlike reënjaar.