Baie mense kom kuier by ons op die plaas om te sien en te leer wat ons doen. Oor die Desembervakansie was daar weer ’n pa en ’n seun, en terwyl ons rondry, vra die pa hoeveel van ons bure al doen wat ons doen. Ek hoop nie ek trap op tone nie, maar sover ek weet, is daar niemand nie.
Baie mense sal die persoon wat my help, in die straat voorkeer en dan vra of ons regtig doen wat ons sê. Aan die een kant en sekerlik die belangrikste doel van herlewingslandbou is die sagte, eerbare dinge, soos bodemgesondheid, grondvrugbaarheid, grondgesondheid, koolstofneerlegging, rentmeesterskap en verantwoordelikheid.
Dít is die regte en etiese redes as ons nog wil hê ons kinders moet voortgaan met hierdie eerbare beroep, naamlik om landbouer te wees. As ’n mens mooi na die woord kyk, verwys dit na iemand wat die land bou.