Inflasie is wêreldwyd aan die galop. Dit ontlok nuwe debatte, veral in Suid-Afrika waar voedselinflasie rondom 6-7% is en die armer deel van die bevolking sowat 40% van hul besteebare inkomste aan voedsel bestee.
Die media is dan ook gou om te wil aandui hoe voedselpryse styg, veral in die jongste tyd ten opsigte van vleis, en dat verbruikers hul rooivleistande moet trek. Hierteenoor is boere vies, want hulle meen dat ’n totaal verkeerde persepsie geskep word.
Die indruk wat gewek word, is dat boere se inkomste bly styg saam met stygende voedselpryse – tot nadeel van die verbruiker. Die middelmanne word ook bygesleep, as sou hulle te veel wins neem.