Te midde van skerp stygende inflasie in die wêreld se belangrikste ekonomieë – die hoogste inflasiekoerse in meer as 40 jaar – het die Suid-Afrikaanse inflasiekoers redelik onder beheer gebly. Dit is ook bekend dat die plaaslike ekonomie die Westerse ekonomieë met ’n sloertyd volg.
Die inflasiekoers in Amerika is tans 8,6% en in die Europese Unie is dit 7,1%. Wel, Suid-Afrika het nou ingehaal met die hoogste inflasiekoers sedert 2017, naamlik 6,5% vir Mei teenoor die vorige maand se koers van 5,9%. Dit is besig om aansienlik bo die Reserwebank se boonste teikenband van 6% te beweeg.
Alle aanduidings is dat die koers in die komende maande nog verder gaan styg, want inflasie op die fabrieksvloer (die produksieprysindeks) van Suid-Afrikaans vervaardigde goedere is tans 13,1%. Dit is prysstygings wat in die komende maande nog moet deurwerk na die winkelrak.