Dit is riskant om voorspellings te maak oor die finale verloop van markte en die geopolitieke magsbalans in die wêreld. Met die skrywe hiervan is Rusland besig om die wêreld se politieke orde op sy kop te draai. ’n Wye skok- en uitkringeffek op markte en ekonomieë is die gevolg.
Daar is reeds sekere gevolge wat ons kan neerpen en in ag neem in ons besigheidsbeplanning vir die volgende maande. Die belangrike benadering is om te probeer verstaan hoe markte besig is om ’n nuwe balans te vind, wat vir boerdery aan die inset- en uitsetkant veranderinge meebring.
Onthou, markte beweeg na ’n nuwe balans, wat ook nuwe geleenthede bring. Een van die grootste risiko’s in die herskikking van markte is dat die regering kan inmeng deur byvoorbeeld die uitvoer van landbouprodukte om voedsel binnelands te hou.