Daar is verskeie redes vir die besluit van die monetêre beleidskomitee (MBK) van die Reserwebank op 19 Mei om rentekoerse met 0,5 persentasiepunte te verhoog, wat beteken die prima rentekoers verhoog tot 8,25%.
Die inflasiekoers kruip al hoe nader aan die boonste grens van die inflasieteikenband van 6%, terwyl die MBK inflasie wil probeer terugdwing na die middel van die band, dus 4,5%. Die Amerikaanse federale reserwebank het ook met ’n aggressiewe beleid begin om sy rentekoers te verhoog na meer “normale” vlakke.
Die verwagting is dat rentekoerse daar heelwat kan styg (vanaf sowat 1%). Die risiko is dat dit buitelandse kapitaal na Amerika sal lok, wat die randwisselkoers verder onder druk sal plaas. Die rand het effens versterk ná die plaaslike rentekoersverhoging.