Die voortdurende skerp styging die afgelope weke in voergraanpryse knou intensiewe veebedrywe se winsmarges. Sommige is tans in verlies- posisies.
Dit wil voorkom of voergraanpryse ’n wyle hoog gaan bly weens die ontwrigting van graanuitvoer uit die Swartsee-gebied en swak oeste in Suid-Amerika. Dit hou pryse in dollarwaarde hoog. Voorraadvlakke was internasionaal reeds onder druk voor die krisis in Oekraïne.
Plaaslike pryse van mielies en oliesade is naby uitvoerprysvlakke, maar steeds heelwat hoër as ’n jaar gelede ten spyte van betreklik goeie oeste. Dit het sedert 24 Februarie verder skerp gestyg. Winsmarges by intensiewe veebedrywe is gevolglik onder groot druk.