Regerings meng die afgelope jaar of drie toenemend in by die landbouhandel wêreldwyd. In die covid-19-grendeltyd het lande erge beperkings op uitvoer gestel om voedsel binnelands te hou. Dit het die handel ontwrig en bygedra tot die skerp styging in wêreldvoedselpryse. Suid-Afrika is ook geraak.
Daar is selfs voorgestel dat die uitvoer van mielies beperk moet word om binnelandse pryse laer te dwing. Suid-Afrika se buurlande het ook in die jongste tyd begin om teen die gees en reëls van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (SADU) eensydig op te tree om hul binnelande bedrywe teen mededinging van Suid-Afrika te beskerm.
Sedert die Russiese inval in Oekraïne het verdere handelsontwrigtings ontstaan met gas, olie en graan, en weens Westerse handelsboikotte teen Rusland. Ontleders meen dat wêreldhandel toenemend op ’n glybaan is.