Die groei in die sitrusbedryf en die sterk groei in uitvoervolumes die afgelope dekade is een van die Suid-Afrikaanse kommersiële landbou se suksesverhale. Dit word hoofsaaklik aangedryf deur die sektor se eie navorsing en private inisiatief.
Daar kan bygesê word dat die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling die afgelope tyd probeer om toegang tot nuwe markte te verbeter om die groeiende uitvoervolumes te bemark.
Die ontwrigting in die 2021-uitvoerseisoen van die aanbodkettings na oorsese markte, vertragings met verskeping en Suid-Afrikaanse hawens se logistieke probleme het die sitrusboere ’n groot geldelike knou gegee deurdat hul inkomste skerp gedaal het.