Die debat ten opsigte van diversifikasie teenoor spesialisasie bly relevant in die landbou, veral omdat markte in siklusse beweeg. Dit is goed om in twee of drie bedrywe betrokke te wees waarvan die siklusse verskil om sodoende ’n egaliger inkomstevloei met verloop van tyd te verseker, maar ook om risiko beter te bestuur.
Daar is wel gebiede waar daar nie baie opsies is nie en waar ’n mens eintlik gedwing word om in een bedryf te spesialiseer, maar dan bestuur jy jou risiko daarvolgens.
Daar is ook ’n risiko dat indien ’n boer met beperkte tyd vir bestuur té wyd diversifieer, hy bestuursdoeltreffendheid en later ook winsgewendheid verloor. Heelwat skoolgeld word ook betaal met die vestiging van ’n nuwe vertakking.