Die huidige wêreldsituasie kan as die grootste ramp sedert die Tweede Wêreldoorlog beskou word, het me. Kristalina Georgieva, besturende direkteur van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF), einde Mei met die afsluiting van die Davos-beraad van die Wêreld-Ekonomiese Forum (WEF) verklaar.
Die IMF verwys in ’n artikel in sy Junie-tydskrif na die grootste langtermyn-perfekte storm wat in die wêreldekonomie ontwikkel. ’n Mens moet bedag wees op die veranderinge wat in die wêreld aan die gang is en wat die landbou en sake-omgewing gaan verander.
’n Mens moet kennis neem van die nuwe neiging en ontwikkelings met die oog daarop om die veranderinge te probeer verstaan, maar veral watter impak dit op ons besighede gaan hê en om vroegtydig te herposisioneer, gegewe die verwagte ontwikkelings. Suid-Afrika, en veral die landbousektor, is ’n oop handelsekonomie.