Twee belangrike navorsingsverslae is in Januarie bekend gemaak. Die Wêreldbank gee ’n vooruitsig van wat in die volgende twee jaar te wagte kan wees in die wêreldekonomie, terwyl die Wêreld-Ekonomiese Forum (WEF) die groot risiko’s bespreek. Hierdie diepgaande navorsingsverslae het ten doel om aan te dui wat die verwagte toestande in die volgende twee jaar gaan wees.
Die bedoeling is dat besighede (en regerings) daarop ag moet slaan en hulself probeer posisioneer vir die verwagte verloop van sake. Dit is waaroor strategiese beplanning gaan: om jou besigheid voor te berei op skokke en wisselvallighede.
Die verslae bring ’n mens onder die indruk dat die wêreldekonomie op ’n baie skerp naaldpunt is. Dit geld soveel te meer vir Suid-Afrika. Kortliks, die slotsom van die Wêreldbank se verslag is dat wêreldekonomieë in skerp, relatief lang tydperke van stadiger groei inbeweeg.