Oor meer as ’n dekade was sy te sien by al wat ’n belangrike geleentheid vir die landbousektor was en oor die jare het Manie haar leer ken as iemand wat nie maklik laat los het as sy eers haar hakke oor ’n kwessie in die grond ingekap het nie.
Daar was byvoorbeeld haar bystand aan David Rakgase in sy stryd van 18 jaar om ’n titelakte op sy grond uit die staat te kry, haar stryd teen die misbruik van geld vir droogtehulp, haar maande lange soektog na boorgate wat die staat beweer het hy met miljoene rande gesink het, en vele ander.
Annette se loopbaan in die politiek het in 2000 begin as raadslid in die Gariep-munisipaliteit. In 2007 het sy die provinsiale voorsitter van die DA in die Oos-Kaap geword en in 2009 ’n DA-parlementslid.