Dit is immers nie die vuurwapen wat gevaarlik is nie, maar die mens wat die ding hanteer. Dit is egter ’n probleem as ons samelewing so ’n klomp skobbejakke geraak het dat ons mekaar nie meer kan vertrou om verantwoordelik op te tree nie, selfs wanneer ons kwaad word.
Kyk nou weer die gemors op Kirkwood! Hoe is dit dat ons mekaar se goed aan die brand steek as ons van mekaar verskil? Hoe keer ’n mens dit? Moet ons mense nou dwing om ’n lisensie-aansoek in te handig om ’n boksie vuurhoutjies te koop? Dit sal tog nie deug nie.
’n Mens wil nie maande of selfs jare vir ’n lisensie wag voor jy weer kan braai nie, maar iets sal gedoen moet word. Brandstigting moet dalk ’n voorrangmisdaad met baie swaar strawwe in Suid-Afrika word. Ons kan tog nie aanhou toelaat dat mense vernietiging saai elke keer dat hulle ’n punt wil maak nie.