Teen hierdie tyd het die hele land seker die videogreep gesien waarin Cele hom toesnou “Sjarrap, sjarrap!” en “jy beskou my as ’n tuinjong” (asof ’n tuinjong nie ook respek verdien nie), voordat hy Cameron wegjaag en sy polisiebeamptes nie op hulle laat wag het om hom uit te gooi nie.
Die vergadering in Guguletu is glo juis gehou om na die gemeenskap se probleme met misdaad en die polisie te luister. Cameron was nie die enigste wat uitgevaar het teen die onaanvaarbare omstandighede nie.
As hy enige waardigheid as minister in hom gehad het, sou Cele na almal se argumente en feite geluister het en daarop gereageer het. Pleks daarvan het hy soos ’n skobbejak opgetree en sy land vir die soveelste keer in die skande gesteek. Die waarheid het inderdaad seergemaak.