Met sy vorige deelname het hy op die tweede dag sy nek in ’n ongeluk gebreek. Die boere op Bonsmara SA se Rooi Ras-geleentheid op Parys het sy vertellings geniet waar hy as spreker opgetree het.
Hy is ’n lid van die telersgenootskap en besit die Bonsmara-stoetery Skatkis daar in die Texas van Suid-Afrika (soos mense na Vryburg se omgewing verwys).
Sy deelname aan die Dakar was hierdie keer minder dramaties, maar hy kon hoër op die uitslaelys geëindig het as dit nie was dat hy op een plek verdwaal het nie. Chris het op kort kennisgewing deelgeneem nadat ’n ander bestuurder onttrek en het net ’n week kans gehad om te oefen.