Manie se vriendin vertel haar ma, in daardie stadium ’n weduwee met twee hoërskoolkinders, het die twee opregte tefies aangeskaf om mee te teel. Afgesien van ’n bykomende inkomste, het sy gemeen die hondjies sou ’n mate van beskerming bied. Dit was ook só.
Die twee wakker hondjies het kwaai geblaf en selfs na hakskene gehap as enigeen die erf ongenooid betree. Ongelukkig, soos teefhonde geneig is om te doen, het die twee later met mekaar begin baklei die oomblik as iemand aan die voorhekkie se knip geraak het.
Die vriendin sê haar kêrel, wat dikwels die petalje aanskou het as hy kom kuier het, het haar huis beskryf as “die plek waar die honde mekáár, pleks van die inbrekers, byt.”