Saam met die politieke ontleder Piet Croucamp het Manie gemeen dit is benoude katte wat benoude spronge begin maak omdat die wêreld te warm word. Daar was immers getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek oor ongerymdhede by die staatsveiligheidsagentskap waarvan Fraser voorheen direkteur-generaal was.
Dit is nou dieselfde Fraser wat verlede jaar in sy rol as kommissaris van Korrektiewe Dienste ’n voormalige president onder uiters verdagte omstandighede met mediese parool laat wegkom het nadat hy ’n mediese paroolappèlraad se advies dat die voormalige staatshoof nie vir parool in aanmerking kom nie, eenvoudig geïgnoreer het.
Een van Manie se kollegas het gaan uitvis waar die storie vandaan kom. Dit blyk nou dat Fraser se klagte nie bloot net ’n rookskerm was om die aandag van sy eie vuil wasgoed af te lei nie. Dit lyk op die oog af of Ramaphosa, of van sy werknemers, self ook dalk ’n boks Omo nodig het.