Manie het sommer in sy melkskommel verstik toe hy lees Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, beoog om binne die volgende drie jaar die helfte van die land se 592 000 km gruispaaie in landelike gebiede te laat plavei.
De Lille staan glo al lank onder talle joernaliste bekend as “Me. Dial-a-Quote”, maar met hierdie stelling het sy haarself oortref. Dit was deel van haar verslag oor die vordering met projekte van die infrastruktuurontwikkelingsplan wat pres. Cyril Ramaphosa in 2020 aangekondig het om die ekonomie in die lig van die covid-19-pandemie te laat herstel.
Suid-Afrika se padnetwerk strek oor sowat 750 000 km – die tiende langste padnetwerk ter wêreld. Daarvan is 158 000 km geteer en 592 000 km ongeteer. Om die hele ongeteerde netwerk op te gradeer, sal R5,3 biljoen (miljoen miljoen) kos.