Die veranderinge het onder meer ingesluit ’n nuwe definisie vir waterbeskadigde en verkleurde pitte. Pitte met waterskade en wat gekleurd is, sou nie meer as gebrekkige pitte geklassifiseer word nie. ’n Verwysing na pienk pitte sou ook uit die graderingsvereistes verwyder word. Boere is om twee redes (wat vir Manie sin maak) ontevrede.
In die eerste plek is die kwessie binne die mielieforum hanteer waarby almal betrokke is en waar almal inspraak kon hê voordat daar klaarblyklike eenstemmigheid bereik is. As enkele belanghebbendes daarna met lukrake besware die werk van die forum ongedaan kan maak, beteken só ’n gemeenskaplike forum niks.
In die tweede plek is die voorstelle oor die veranderinge aan die regulasies nie net bloot uit die lug gegryp nie. Dit het gevolg nadat die SA Graanlaboratorium (SAGL) op versoek van die mielieforum en met finansiering van die mielietrust deeglike navorsing gedoen het.