Dit is skrikwekkende statistieke, maar Manie wil saamstem met Marcelle Maritz, VF Plus se leier in Limpopo, wat waarsku dat Suid-Afrikaners nooit net gewoond kan raak daaraan nie, want dan is ons “gestroop van menslikheid, emosie en meegevoel”.
Die syfers mag nie daartoe lei dat die grusame werklikheid van dood en verminking sy angel verloor nie. Maritz het haar innerlike gevoelens uitgespreek toe sy die soveelste keer as politieke leier die toneel van ’n plaasaanval besoek het.
Hierdie keer was dit die plaas van Marthiens Richter (68) by Thabazimbi wat buite die huis doodgeslaan is, terwyl sy vrou, Elsa, ernstig aangerand en gemartel is. Elsa se klere is afgestroop, sy is geskop en geslaan en daarna in ’n stort ingedruk met net die warm water oopgedraai.