Die gewilde siening al sedert 1994 (veral onder regeringslui) is dat wit boere 80% van die landbougrond besit en dat die regering 30% daarvan wil herverdeel teen ’n datum wat telkens uitgestel word en nou op 2030 staan. Die algemene siening is verder dat daar tot dusver net 8-10% herverdeel is.
Manie se wiskunde laat hom maar baie in die steek. Daarom was dit insiggewend toe twee kenners, prof. Johann Kirsten van die departement landbou-ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch en Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, onlangs duidelikheid oor die verskillende mites probeer verskaf het.
Die syfers waarmee gewerk word, is dat in 1994 wit boere 78 miljoen ha landbougrond uit ’n totale oppervlak van 122 miljoen ha in Suid-Afrika besit het. Meer as 55% daarvan is egter net geskik vir ekstensiewe veeboerdery (soos in die Karoo) en dit is nie maklik om ’n volhoubare boerderybestaan daarop te maak nie.