Die geveg het in 2018 begin toe die departement onder wyle Edna Molewa forel saam met ander ekonomies belangrike spesies onder wetgewing as indringers gelys het. Dít ten spyte van ooreenkomste wat die akwakultuurbedryf en die regering reeds in 2014 oor die bestuur van hierdie spesies bereik het.
Fosaf, die organisasie wat die vlieghengelwaardeketting in Suid-Afrika verteenwoordig, het in September 2018 al ’n aansoek voor die hof gebring op grond daarvan dat die publiek nie geken is in die besluit nie. Die Gautengse hooggeregshof het in 2021 in Fosaf se guns beslis met ’n kostebevel teen die departement.
Barbara Creecy, Molewa se opvolger, se aansoeke om teen hierdie uitspraak te appelleer, is al twee keer met koste van die hand gewys. Nou wil sy Grondwethof toe. Manie verneem die forelbedryf is intussen in ’n oorlewingstryd in Mpumalanga gewikkel waar boere skielik deur hul nek moet betaal vir permitte.