Ná die ondertekening het Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, die plan beskryf as ’n toonbeeld van ’n gesamentlike verbintenis tot die sukses en groei binne die sektor.
Hy het gesê die plan maak voorsiening vir omvattende steun vir nuwe boere én kommersiële boere, en dat daar ’n gebalanseerde benadering is. Hy het egter bygevoeg dat die meesterplan ’n teoretiese raamwerk is met verskeie aspekte wat verdere onderhandeling sal verg.
Talle organisasies, waaronder die netwerkorganisasie Saai, TLU SA en die nasionale werkgewersorganisasie (Neasa), het nou met ’n veldtog begin om ’n alternatiewe meesterplan saamgestel te kry wat, volgens hulle, meer op ekonomiese beginsels geskoei sal wees.