
Die vers, LAR 20-0271, is deur die Up George-stoetery van mnr. Derek Ralfe van Wasbank in KwaZulu-Natal geteel. Die koper was mnr. Eloff Muller, beter bekend as ’n teler van Dohne-Merino-skape van Mosselbaai, wat sy Tamboraine Bonsmara-stoetery eers twee jaar gelede op die been gebring het. Hy beoog om die standaard van sy stoetery met die nuwe aankomeling te verhoog.
Hy beskou die vers as fenotipies baie korrek. Sy beskik oor baie goeie teelwaardes van 119 vir kalwingsgemak, 116 vir speenkalfwaarde, 101 vir vrugbaarheid, 87 vir onderhoudswaarde, 111 vir koeiwaarde, 100 vir groeiwaarde en 109 vir karkaswaarde.
Ralfe wie se pa, Lawrence (84), onlangs oorlede is, het die stoetery 35 jaar gelede saam met Lawrence begin.
Up George het ook ’n dragtige vers, LAR 20-0156, vir R170 000 verkoop.
’n Dragtige koei met kalf, SYF 19-0207, is deur Syferfontein-boerdery vir R190 000 aan mnr. P.B. Labuschagne van Hoopstad verkoop. Labuschagne het ook R160 000 vir ’n koei en kalf van mnr. Arthur de Villiers betaal. ADV 18-0113, ’n drie-in-een van Syferfontein-boerdery, is ook vir R160 000 aan Virgin Investment Trading van Carolina verkoop.
Volgens Vleissentraal wat die veiling gehou het, het dragtige koeie gemiddeld R46 667 behaal, drie-in-een’s R110 000, dragtige verse R88 889 en koeie met kalwers R106 000.
Die omset het R4 290 000 bedra. Mnr. Anton Vos, uitvoerende hoof van Vleissentraal, sê gegewe die moeilik ekonomiese toestande is hy tevrede met die pryse. Dit is verblydend hoeveel jong telers goeie pryse vir hul diere ontvang het.
Die afslaer was mnr. Mike Killassey.