
Die R1 miljoen wat Saterdag (26 Maart) vir ’n
sesjarige Brahmanbul, WIL 15-63 Sleeping Giant, betaal is, is ’n aanduiding van
volgehoue vertroue om in dié ras te belê, sê mnr. Sietze Smit, rasdirekteur van
die Brahman-beestelersgenootskap van Suid-Afrika. Hierdie vertroue word
versterk deur die resultate van deurlopende plaaslike navorsing wat help om
hierdie ras se vele sterk punte duideliker te identifiseer en selfs sy
swakhede, waaraan dan gewerk kan word.
Smit sê dit is nie die eerste Brahman-stoetbul wat vir R1 miljoen in Suid-Afrika verkoop is nie. In 2019 het mnr. Christiaan en me. Mieke Botha van Weltevreden River Ranch van Maasstroom R1 miljoen betaal vir die bul R10 15-40 Mr Jean Manso, wat deur mnr. Llewellyn Labuschagne van die R10 Brahman-stoetery by Letsitele geteel is. Die afgelope jare was daar ’n merkbare toename in die gemiddelde pryse wat in Suid-Afrika vir stoet-Brahmane betaal is.
Sleeping Giant is geteel deur mnr. Willie Becker van Nedibest Brahmane in die distrik Mogwadi (voorheen Dendron) in Limpopo. Hy is as tweejarige deur mnr. Paul Duarte van Duarte Cattle & Game Breeding in die distrik Roedtan gekoop. Duarte het die bul die afgelope naweek te koop aangebied op ’n gesamentlike produksieveiling van Duarte Cattle & Game Breeding, Weltevreden River Ranch en Bos Blanco Beefmasters & Brahmans.
Sleeping Giant is aan mnr. Marius de Beer van Keerom Brahmane in die distrik Dwaalboom verkoop.
Duarte kon nog nie vir kommentaar bereik word nie.
Op ’n Facebook-plasing ná die verkoop het hy egter geskryf: "Jitte! Jitte! Jitte! Toe ek eers daaraan gedink het om een van die indrukwekkendste bulle tans in Suid-Afrika te verkoop, was dit bedoel vir ’n ernstige teler en ernstige koper. Nooit het ek gedink ek sou so emosioneel raak oor ’n bul soos hierdie nie. Baie geluk aan Marius de Beer met die aankoop van WIL 15-63. Wat ’n eens in ’n leeftyd bul. Mag hy aanhou teel so goed soos hy vir my gedoen het, ook vir jou.”
Oor hoekom hy bereid was om R1 miljoen vir dié bul te betaal, sê De Beer aan Landbouweekblad dat sy Keerom Brahmane-stoetery redelik nuut is, en hy gebruik slegs sekere bloedlyne in die stoetery se ontwikkeling. WIL 15-63 “val mooi in” by hierdie bloedlyne wat gesogte vroulike verse produseer.
“Daardie bul teel uitstekende vroulike kalwers. Ek het met oom Willie Becker gepraat en hy reken dat die bul die beste is wat hy nog geteel het. Hierdie bul pas presies in my lyn van teling. Dis die perfekte bul vir my en ek kan jou belowe jy gaan nie so ’n bul in die volgende vyf jaar in Suid-Afrika sien nie,” sê De Beer.
Mnr. Paul van Vuuren, direkteur van André Kock & Seuns Lewendehawe Afslaers wat die veiling behartig het, stem saam dat WIL 15-63 ’n “besonder goeie bul” is.