
Die Eksteenbroers Marius jr. en Jan, van Hatari-wildtelers by Bloemfontein, het ’n Suid-Afrikaanse rekordprys van R80 000 vir ’n ooi van mnr. Johannes du Toit van Remkuil-Dormers by Caledon betaal. Die vorige hoogste prys vir ’n Dormer-ooi was in 2020 toe een met ’n drieling R45 000 behaal het.
Die aankoop van die Remkuil-ooi is die Eksteens se poging om die genetiese basis van hul Hatari-stoetery te versterk. Die stoetery se eerste produksieveiling word op 14 Oktober op die plaas Goeiehoop aangebied.
Die Eksteens het ook met die samewerking met ’n konsortium kopers R260 000 vir die veiling se duurste ram van die Nova Barletta-boerdery van mnr. Lodie van Reenen en sy vrou, Chriselle, van Clocolan betaal. Die medekopers is mnre. Steyn Steenekamp en Abraham Steyn van die Droërivier-Dormers (Burgersdorp), Tjaart Steenekamp (Twee Broers-stoetery, Barkly-Oos) en Pieter Jordaan (Buffelsfontein-Dormers, Somerset-Oos).
Die ram Oorlog, van die broers Tjaart en Steyn Steenekamp, is op die 2021-veiling teen ’n rekordprys van R350 000 aan die Eksteens verkoop. Hulle het in Oorlog belê om van sy nageslag op hul eerste produksieveiling aan te bied. Hulle het ook die afgelope ses jaar van die land se beste teelmateriaal aangekoop. Baie van Hatari se vroulike diere kom uit Twee Broers se bewese teellyne.
Altesaam 50 ramme is teen gemiddeld R26 950 verkoop en 80 ooie teen gemiddeld R17 812. Altesaam 10 ooie met lammers is teen gemiddeld R15 500 verkoop met ’n hoogste prys van R40 000.
Vleissentraal Port Elizabeth/Kaap het die veiling by die Be Human-sentrum, Bloemfontein, aangebied en die afslaer was mnr. Ian Grobbelaar.